Jy mag so ’n persoon nie genade betoon nie: ’n lewe vir ’n lewe, ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand, ’n hand vir ’n hand en ’n voet vir ’n voet. (vers 21)
Ons ken almal hierdie uitspraak, omdat Jesus dit aanhaal in sy Bergrede (Matt 5:38). In Jesus se tyd is dié reëling as verskoning gebruik om iemand in eie munt terug te betaal.
Die fout wat hulle gemaak het, was dat hulle vers 21 vir persoonlike konflikhantering gebruik het. Dit gaan egter nie hier om persoonlike wraak nie. Dit is ’n riglyn vir regters om te verseker dat die straf by die oortreding pas.
Jesus waarsku teen wraak en vergelding. Vergifnis en ’n sagte benadering hou die moontlikheid in dat daar versoening kan kom en dat die saak nie in ’n nimmer-eindigende spiraal van wraak en weerwraak ontaard nie. Dit was ook die hele beginsel agter die instel van asielstede, wat moes keer dat onskuldige bloed vergiet word.
Daar is goed wat met ’n mens gebeur wat jou baie seer laat kry. Om dan met die las op jou gewete te loop dat die onreg reggestel moet word, kan ondraaglik word. Jesus se raad is: Los dit vir God. Lees ook Rom 12:19.
Views: 4