… hulle is almal met hulle vrouens en kinders saam met ons tot buitekant die stad. Ons het op die strand gekniel en gebid en van mekaar afskeid geneem. (Hand 21:5-6)
In die jongste Kerkbode vertel ds Jan Lubbe in sy gereelde rubriek “Uit my kerkdagboek” van ’n dogter wat by die kerkbasaar vir hom gesê het: “Ons het nie ’n kerk nie, Oom.” Dit het my laat dink aan ’n gebeurtenis in my eerste gemeente. ’n Baie aktiewe lidmaat is onverwags oorlede, en dit was die einde van sy drie kinders se Sondagskool-bywoning. Sy weduwee het besluit sy wil nie namens die kinders besluit wat hulle moet glo nie.
Klaarblyklik was dit anders met die eerste gelowiges. Lukas skryf dat almal, ook die kinders, saam is om van Paulus afskeid te neem (vers 5). Merkwaardig, want in die antieke wêreld kon kinders nie eintlik aan godsdienstige aktiwiteite deelneem nie. Kinders is egter deel van God se familie, en daarom ook deel van die kerk. Dit sien ons ook later in die hoofstuk waar Filippus se vier dogters prominente lede van die gemeente in Sesarea was (vers 9).
Kinders hoort in die kerk. Daarom dat Jesus so ’n sagte plek vir hulle in sy bediening gehad het (Matt 19:14).