Wanneer ’n man twee vrouens het […] mag hy nie die seun van die vrou wat hy liefhet, in sy testament as sy oudste beskou en hom bevoorreg bo die seun wat eintlik sy oudste is nie, die seun van die vrou van wie hy nie hou nie. (vers 15-16)
Poligamie is nie in die Ou Testament veroordeel nie, hoewel dit meestal net welgestelde mans was wat meer as een vrou gehad het. Dikwels is só ’n huwelik genoodsaak t.w.v. ’n erfgenaam wanneer die eerste vrou kinderloos was, bv Abraham en Sarai (Gen 16:1-2), of Elkana en Hanna, (1 Sam 1:2). Ons lees ook van ander gevalle van poligamie uit die vroeër tyd, soos Jakob.
In die meeste gevalle waarvan die Bybel vertel, was poligamie ’n resep vir huishoudelike onmin en hartseer. Moses se reëling in vers 16 wil keer dat die seun van die geliefde vrou voorgetrek word ten koste van die ander, soos Jakob met Josef en later ook Benjamin gedoen het (Gen 37 en 44:20).
Met egskeidings en hersaamgestelde gesinne vandag is die versoeking daar dat kinders voorgetrek (of afgeknou) word, of ouers trek tou oor hulle kinders, met matelose hartseer vir die betrokke kind en die gesin. Moenie in daardie strik trap nie. Dis dwaasheid.
Views: 4