Toe sê die Here vir Moses: “Jy gaan nou sterf. Daarna sal hierdie volk ontrou word en in die land waar hy gaan woon, die vreemde gode van die land aanhang. Die volk sal My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hom gesluit het.” (vers 16)
Ons het hier met die raaisel van die sonde te make. Jy weet wat is reg, en jy weet wat die gevolge gaan wees as jy die regte ding nie doen nie, en tog doen jy die verkeerde. Moses het dit goed verstaan, en daarom waarsku hy die Israeliete oor en oor dat hulle moet lig loop vir die versoeking om van God weg te draai. Hy spel selfs in detail uit wat die gevolge van dié afvalligheid gaan wees – hulle sal God verloor.
Paulus skryf in Rom 7:15-24 hoe hierdie einste raaisel in sy eie lewe uitspeel. Hy roep moedeloos uit: “Ek, ellendige mens!” En dan jubel hy (Rom 7:25): “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Want Christus se kruisdood het ons nie net van die skuld van ons sonde verlos nie, maar ook van die vloek, die houvas, wat sonde op ons het.
Het jy Hom al vandag daarvoor gedank?