Wie van ons ken nie die verhaal van Josef en Potifar se verleidelike vrou nie? Of van Dawid wat met sy slingervel die reus Goliat op sy baadjie gegee het? Of Daniël in die leeukuil? Of Petrus wat op die water geloop het en toe gesink het? Die Bybel is propvol verhale van mense – mense van vleis en bloed soos ek en jy. Mense wat ook, nes ons, moes worstel met versoekings en sonde, met hulleself en God se wil vir hulle lewe. Mense wat op die swaar manier geleer het om agter God aan te loop, mense wat soms gefaal het, maar soms ook in God se naam die vreugde gesmaak het om die ongelooflikste oorwinnings te behaal. Dink maar aan Gideon en sy bende van 300 man wat die magtige Midianitiese leër die hasepad laat kies het!

Hoekom is hierdie verhale in die Bybel opgeteken? Enersyds, dink ek, om vir ons te wys hoe lyk geloof in die praktyk. Vir hierdie mense was geloof nie ’n teoretiese saak nie. Daar is bv. niks teoreties daaraan as God vir Abraham beveel om sy seun Isak te gaan offer nie. Andersyds leer hierdie verhale vir ons wie God is, hoe Hy dink oor dinge, hoe Hy optree, hoe Hy met mense ’n pad stap. Want ten diepste is die Bybelfigure in die verhale nie die hoofkarakters nie; Gód is die hoofkarakter.

Daarom is dit noodsaaklik dat ’n mens nie net die Nuwe Testament en Psalms en Spreuke lees nie, maar die hele Bybel, (veral) ook die verhalende gedeeltes; dis nou as jy nie ’n skewe beeld van God wil kry nie. Dawid sê: “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” (Psalm 119:105)

image_pdfimage_print

Views: 78

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.