Maar vir die mens het Hy gesê: “Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.” (vers 28, 2020-vertaling)
Hoewel dit lyk asof hierdie lied oor die wysheid Job se woorde is, verskil die rustige trant van die lied met Job se andersins emosionele styl. Daarom is daar kommentare wat sê dit is die skrywer van die boek wat hier aan die woord is. Dit kan egter ook ’n bepeinsing van Job self wees wat oor die wysheid wonder, veral omdat God tot dusver stil is.
Hy sê drie dinge oor die wysheid:
Wysheid kan nie gemyn word nie (vers 1-11). Waar minerale op spesifieke plekke te vinde is, is wysheid se plek onbekend. Met al sy vernuf kan die mens nie sy hande daarop lê nie.
Wysheid kan nie gekoop word nie (vers 12-19), al is jy hoe ryk.
Wysheid is by God alleen te vind (vers 20-28). Hy is die outeur van wysheid.
Ware wysheid beteken dat ’n mens God se perspektief oor die lewe sal hê. As jy dié wysheid wil hê, gaan praat en redeneer jou nie help nie. Jy moet dit by God kry namate jy met ontsag voor Hom lewe (vers 28; vgl Spr 1:7).
Views: 8