Dan openbaar God Hom aan die mens en dreig dat Hy hom sal straf om hom van verkeerde dade af weg te hou en hom van hoogmoed te weerhou. (vers 16-17)
Anders as die ander (ouer) vriende, huiwer Elihu nie om Job oneerbiedig op die naam te noem nie (vers 1 en 31). Hy dink hy het al die antwoorde (vers 33). Hy haal as “aanklaer” Job se eie woorde aan (vers 9), maar verdraai dit. Job hét wel erken dat hy sonde het (7:21 en 13:26). Sy frustrasie was dat hy nie kan glo dat sy sonde só ’n vernietigende oordeel oor hom kon bring nie.
Volgens Elihu is teëspoed God se manier om die mens te louter (vers 16-22). Dit kan natuurlik so wees. Maar God se handelinge is nie só eenvoudig verstaanbaar nie, en buitendien is Job nie op die verkeerde weg nie. Watter sin het Job se lyding dan?
Om alles te kroon, sien Elihu homself as ’n soort middelaarsengel wat vir Job sal bid, en – siedaar! – sal hy weer gesond word (vers 26). Al wat Job moet doen, is om voor die mense sy skuld te bely (vers 27). So asof jy net die regte knoppie by God moet druk om jou antwoord te kry.