Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. (vers 7)
Elifas, Bildad en Sofar was nie kwaadwillig in hulle gesprekke met Job nie, en het by alles wonderlike dinge oor God gesê. Maar hulle was verkeerd in hulle beoordeling van die situasie, en té stellig oor wat hulle geglo het die waarheid is. Hulle goeie bedoeling om God se eer te verdedig, het nie hulle verkeerde konsepsies reg gemaak nie.
Ek dink dis vandag steeds ons probleem. Mense probeer God se eer verdedig in wat hulle glo die waarheid is. In die proses val hulle ander aan en raak selfs beledigend oor wat hulle beskou as dwaling. Hulle is doodseker hulle is reg, en die ander ook weer op hulle beurt. Dis wat tans in die NG Kerk aan die gang is, met vernietigende gevolge.
Ons het eenvoudig nie al die wysheid in pag nie, en moet daarom liewer ons woorde (en oordele) tel. Dis wat die boek Job my geleer het. Geduldig wees en troos, eerder as heilige verontwaardiging. Só help ons as gelowiges mekaar.
Naskrif: Môre begin ons weer Romeine lees.
Naskrif 2: Ek en Elmien is tans in Sydney, Australië, vir die geboorte van ons jongste dogter se eerste baba. Ek is onseker hoe dit my skrywery sal raak. Dit kan wees dat ek nie noodwendig elke dag ’n stukkie sal kan skryf as die baba eers gekom het nie, en ek vra by voorbaat daarvoor verskoning. Dankie vir julle begrip.