Deur julle verbondenheid met die liggaam van Christus het julle gesterwe en staan julle nie meer onder die wet nie. Julle behoort nou aan iemand anders, aan Hom wat uit die dood opgewek is. Daarom moet ons nou ’n vrugbare lewe lei in diens van God. (7:4)
As ’n mens hierdie hoofstuk lees, verstaan jy wat Petrus in 2 Pet 3:16 bedoel het toe hy geskryf het dat party van Paulus se redenasies moeilik is om te begryp!
Paulus skryf dat ons ou realiteit die wet was, wat ons gedurig daaraan herinner het dat ons sondaars is. Dit het ons moed gebreek, want die wet het ons as ’t ware vasgehou, sodat dit vir ons onmoontlik was om vir God te leef. Maar Christus, wat die wet volmaak nagekom het, het ons van die wet se houvas bevry toe Hy gesterf het. Deur ons redding het ons immers een geword met Christus. Dit beteken dat ons ook, soos Hy, gesterf en so vrygekom het van die eis van die wet.
Dís ons nuwe realiteit. Die wet het nie meer ’n houvas op ons nie. Daarom moet ons nie aan onsself dink as verloorders en slawe van die sonde nie. Ons is vry, en kan nou heelhartig vir God leef.
Views: 7