Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. (Luk 1:38, 2020-vertaling)

Watter prentjie het jy in jou kop as jy aan Maria dink?

Elke jaar in die Kerstyd duik Maria as ’t ware weer van voor af op in ons gedagtes. Party mense het ’n baie romantiese beeld van haar, maar ek het ’n vermoede dat die werklikheid van dié meisie van Nasaret glad nie so wonderlik was as die prente wat ons op Kerskaarte en in ons gedagtes van haar het nie. Want in die eerste plek was Maria waarskynlik nie ouer as so 12,13 of dalk 14 jaar nie: iemand van gr 7of 8, dus.

Jonk; eintlik nog kind, nie waar nie? ’n Kind met wie die ongelooflikste ding gebeur. ’n Engel verskyn aan haar, wat natuurlik al klaar raar is. Ek bedoel, aan wie van die mense wat jy ken, het daar al ’n engel verskyn? In Bybelse tye was dit nie anders nie. Engele het nie sommer om elke hoek en draai vir jou gestaan en wag nie!

En wat die engel vir haar vertel het, moes haar, om die minste te sê, onkant gevang het. “Jy gaan ’n baba hê, al het jy nie by ’n man geslaap nie.” Dink julle in in haar situasie. Wat sou haar ouers sê? Wat sou haar verloofde sê? Ek weet wat ék sou gedink het, en heel waarskynlik gesê het ook: Maria was gruwelik. Sy het oor die tou getrap, en noudat sy verwag, soek sy uitkomkans. Dis dié dat sy sulke nonsens loop en vertel. Josef, so weet ons uit die Matteus-verhaal, het daar en dan besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Ek meen, as dit mý verloofde was wat swanger was, sou ek sekerlik ook so gereageer het.

I
So, Maria moes op die minste besef het dat die engel se aankondiging ingrypende implikasies vir haar lewe vorentoe sou hê; dat haar hele lewe op daardie moment onherroeplik verander het. Natuurlik sou sy nog nie verder as die geboorte kon dink nie; natuurlik sou sy nie op daardie stadium al planne agtermekaar kon hê oor wat haar te doen staan met die buite-egtelike swangerskap nie. Maar sy het geweet dis nie ’n eenvoudige ding wat die engel – wat God – vir haar kom sê en van haar verwag nie. Sy sou sekerlik daarmee rekening gehou het dat Josef haar sou los en dat sy die baba as ongehude ma sou moes grootmaak. En in daardie dae was dit nie eintlik iets wat ’n mens gedoen het nie.

En tog, nadat Maria die engel aangehoor het en ’n vraag of wat gevra het om seker te maak sy verstaan wat die engel vir haar gesê het, antwoord sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (v 38).

Probeer jou in Maria se skoene plaas. Nee, dis tog nie moontlik nie. Maar probeer jou indink in ’n situasie waar God van jou ’n moeilike ding vra; ’n ding wat jy voor jou siel weet baie van jou gaan verg; ’n ding wat jou hele toekoms op sy kop gaan keer. Wat sal jy vir God antwoord? Sal jy kans sien om ja te sê vir God, al beteken dit dat jy jou eie toekomsdrome moet laat vaar? Al beteken dit dat hulle vir wie jy die liefste is, dalk teen jou gaan draai?

Maria se antwoord op die engel se boodskap is nie vanselfsprekend nie. Dit het moed gekos om so te antwoord. Geloof verg moed. Geloof kos jou iets. Koning Dawid sê in 2 Sam 24:24: “Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie.” Om gelowig vir God ja te sê, kom teen ’n prys. Want geloof vra dat jy God toelaat om sy wil vir jou lewe uit te werk. Sý wil, nie joune nie. Dís waartoe Maria hier instem.

II
Maar – en dit is baie belangrik – instem beteken nie gelatenheid nie. Geloof beteken nie dat jy sê: As dit dan nou nie anders kan nie, sal ek maar moet ingee nie. Want as ons dít in Maria se antwoord hoor, het ons nie goed geluister nie. Of miskien moet ek sê, die NAV help ons nie op dié punt om Maria se antwoord goed te verstaan nie. In Maria se antwoord slaan daar ’n opgewonde klank deur. Sy spreek ’n wens uit dat God se woord in haar lewe uitgewerk sal word. Daarom die “mag met my gebeur” van die 2020-vertaling. Die NLV vertaal haar antwoord só: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”

Hier is niks van gelatenheid nie. Niks van ’n “ag, arme ek”-houding nie, of van “ek moet maar tevrede wees” nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid, ’n blydskap, omdat God ook deur haar lewe aan die werk is. Daarom, in die volgende paragraaf, hoor ons haar sing, hoor ons hoe sy haar opgewondenheid en vreugde in die Here uitjubel: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

Dit is Kersfees. Dis natuurlik nie moeilik om in hierdie dae opgewonde te wees oor die Kind in die krip en oor God se dade met ons nie. Wie word nie aangegryp deur die eenvoudige verhaal van Josef en Maria en die stal en die sterrekykers en die herders nie?

Maar is jy opgewonde saam met Maria oor wat God besig is om in en veral deur jóú lewe te doen? Is jy saam met haar opgewonde oor die jaar wat kom, oor wat 2024 gaan inhou vir jou as gelowige? Is jy nou al vol blye verwagting oor al die dinge wat die Here se pad vir jou persoonlik beteken?

Want dít is die soort geloof wat God by ons soek. Dis by sulke mense wat Hy tuis is en woning maak – mense soos Maria, wat hulleself tot God se beskikking stel, sodat Hy sy plan in hulle lewens kan uitwerk; mense wat met blydskap en entoesiasme deel wil wees van sy plan, wel wetende dat dit nie noodwendig ’n gelyk pad gaan wees nie.

Geseënde Kersfees!

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.