So sê die Here my God: “Van al die hout gooi Ek die wingerdhout in die vuur om te brand en so maak Ek met die inwoners van Jerusalem. (Eseg 15:6)
Die wingerdstok is dwarsdeur die Ou Testament ’n toonbeeld van verlossing en oorvloedige vreugde (vgl Ps 80:9). Daar is egter ook gedeeltes waarin die wingerd (Israel) die hemelse Wynboer diep teleurgestel het (Jes 5:1-7 en Jer 2:21). Esegiël bou op hierdie beeld voort en verdiep dit. Dis nie net die druiwe wat suur is nie, sê hy. Die wingerdhout is onbruikbaar, en al waarvoor dit deug, is brandhout.
Vir die Israeliete moes dit ’n ontstellende woord gewees het. Nie lewe, groei en genade (soos die wingerd gesimboliseer het) nie, maar God se oordeel en vernietiging.
Hierdie woorde vra selfondersoek en vernuwing, ook van ons. Sonder vrug is ons lewens nutteloos. God soek by ons toewyding aan Hom, soos Jesus so treffend uitgespel het in Joh 15:1-8. Hy leer ons dat ons net vrugbaar in die koninkryk kan wees as ons innig aan Hom verbonde bly, want sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh 15:5). Dit is hoe ons die Vader verheerlik (vers 8).
Nie op jou eie nie, maar ingeënt op die Wingerdstok. Só dra jy vrug.
Views: 38