Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. (Hand 2:24)
Wat ’n merkwaardige woord staan hier in vers 24! Ons kan ook vertaal: Die dood was nie by magte om Hom vas te hou nie. En dit, terwyl die dood in die Bybel geteken word as ’n mag, ’n verskriklike mag wat oor ons lewens seggenskap het. Die dood staan eintlik as die simbool van alle magte waaraan ons onderwerp is. Die dood is in die Bybel ’n soort versamelnaam vir alle magte wat ons bind en magteloos maak.
God is sterker as die dood. Daarom gebeur dit herhaaldelik in die Bybel dat, in ’n situasie waar die doodse magte heers, waar alles hopeloos lyk, God ingryp en alles laat verander en nuwe uitsig bring. Soos met Abraham en Sara (vgl Heb 11:12).
Niks is by God onmoontlik nie. Geen situasie is só hopeloos en dood dat Hy dit nie lewend kan maak nie. Hy is by magte! Hy het die dood oorwin. En saam met Hom is ek en jy ook opgewek. Daarom kan ons – nee, móét ons – opgewek leef. Jy kán, want God kan.