Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg …? (Hand 5:3)
Dis nogal ’n hartseer verhaal, en dit juis op ’n tydstip toe die kerk so jonk en vol bruisende lewe en oorgawe aan die Here was. Was dit nou regtig nodig dat Ananias en Saffira moes sterf, en dit oor ’n leuen?
Net die feit dat ons dit dink, laat die rooi ligte flikker. Ons het gewoond geword aan die sonde, en daarom dink ons dit is nie so erg nie. Maar sonde is sonde, dit is sonde teen die heilige God, en dit mag nie in die kerk van die Here Jesus geduld word nie. Daarom sê Petrus uitdruklik: “Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God” (vers 4).
Ananias en Saffira moes sterf omdat God jaloers waak oor sy kerk. Hy sal nie toelaat dat sy kerk met sonde speel en die duiwel kans gee om die kerk te vernietig nie. Daardie les moes die vroeë kerk leer.
Laat dit ook vir ons ’n les wees: God duld nie sonde nie. Maar ook ’n troos: God waak oor sy kerk. Hy sal nie die duiwel kans gee om die kerk uit sy hand te ruk nie.