Paulus het ’n volle twee jaar lank in die huis gebly wat hy gehuur het, en hy het […] die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering. (Hand 28:30-31)
Hoekom het Lukas die verhaal van Handelinge só gestop? Wat het van Paulus geword? En van Petrus en die ander apostels – Johannes en Tomas, of bv Barnabas? Dis so al asof hy nie daarin belang stel om hulle verhale vir ons klaar te maak nie.
Ek dink Lukas sou sy kop geskud het as ons hom dié vrae gevra het. Hy sou gesê het: “Maar ek hét tog die verhaal klaar vertel!” Want in Hand 1:8 sê Jesus sy dissipels sal sy getuies wees tot in die uithoeke van die wêreld. En hier is Paulus nou in Rome, die uithoek van die destydse wêreld uit ’n Joodse oogpunt, en hy verkondig die evangelie met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering.
In ’n sekere sin het Jesus se woorde aan sy dissipels net voor sy hemelvaart hiermee in vervulling gegaan. Die boodskap dat Jesus Christus Koning is, het nou selfs die hart van die destydse wêreld bereik.
Naskrif: Môre begin ons die Eerste brief aan die Korintiërs lees.