Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? (1 Kor 6:7)
In ons moderne samelewing het hofsake iets alledaags geword. Die howe kan nie byhou met al die sake nie. Nou praat ek nie van politieke leiers wat aanhou hof toe gaan, tot jy daarvan wil skree nie. Ek praat van gelowiges wat hulle dispute met ander gelowiges in die hof laat besleg.
In die vroeë kerk is die riglyne wat Paulus hier gee, baie ernstig opgeneem. Lidmate is verbied om na die wêreldse howe te gaan. Ouderlinge is aangestel om dispute te besleg. Hierdie kerklike howe het soveel aansien geniet dat selfs nie-lidmate hulle eerder na hierdie kerklike howe gewend het.
By ons is daar lank nie meer sulke kerklike instellings om siviele sake te hanteer nie. In só ’n geval, sê Paulus, is die opsie altyd daar om liewer onreg te ly. Maar ons moderne gelowiges wil te dikwels onsself laat geld en die ander party op sy baadjie gee.
Miskien moet ons Josef (en Jesus!) se voorbeeld begin volg (Gen 50:19-21; kyk ook na 1 Pet 2:21-23). Vergifnis eerder as vergelding. Dís kruisdra!
Views: 9






