Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie. (1 Kor 16:2)
Hoe moet ons die grootte van ons dankoffer bereken? Paulus sê: na vermoë (vers 2). Onthou, jou dankoffer is ’n geloofsdaad. As jy aan God gee wat Hom toekom, kan jy glo dat Hy vir jou sal sorg (2 Kor 9:8-11). Hoewel ons nie meer met ’n tiende van ons inkomste werk soos dit in die Ou Testament gegeld het nie, bly dit tog ’n goeie aanduiding van hoe ons oor dankoffers moet dink. Uiteindelik gaan dit oor die vraag: hoe dankbaar is jy?
Moet jou hele dankoffer na die gemeente toe gaan? In Deut 14:22-29, waar die reëlings oor die gee van die tiende getref word, staan ’n interessante ding: elke drie jaar moes die Israeliete hulle tiendes nie na die tempel toe vat nie, maar in die dorpe opspaar, sodat die Leviete, die armes en die weduwees van die omgewing kos kan hê om te eet (Deut 14:28,29). Miskien kan ons hieruit aflei dat ’n deel van ons dankoffer aan buite-gemeente- en liefdadigheidswerk gegee kan word?
Naskrif: Ons gaan Maandag met 2 Korintiërs voort. Seënwense!
Views: 18






