Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep. (vers 13)
Die hoofstuk begin met ’n roerende beskrywing van ’n sprinkaanplaag wat alles voor hom platvee. Dié verskrikking noem Joël die Here se leërmag (vers 11). Vers 12 gee die rede vir dié katastrofe: iewers langs die pad het God se volk van die Here af weggedwaal. Hulle word opgeroep om na Hom terug te keer; nie sommer net met uiterlike bewyse van berou nie, maar hartgrondig (vers 13).
Die oproep tot terugkeer is ’n hoopvolle een, want God is genadig en barmhartig. Hy is bereid om jou ’n nuwe kans te gee. Dié versekering word van vers 18 af met uitdruklike beloftes van seën bevesting. Dit is ’n herstel van die land ná die verwoesting, maar ook ’n Geestelike seën (vers 28).
Waar die Here is, is daar hoop. Die Here Jesus het dit tog belowe in Joh 6:37: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Dis ook die hoop waarmee die digter van Psalm 130 ons troos. Dié hoop is vir jou ook!
Views: 89